Friday 13 August 2010

Ek is van Afrika (Afrikaans)

I Am An African by Wayne Visser
Afrikaans Translation


Ek is van Afrika
Nie omdat ek daar gebore is
Maar omdat my hart met Afrika klop
Ek is van Afrika
Nie omdat my gelaat donker is
Maar omdat Afrika my gedagtes omgrens
Ek is van Afrika
Nie omdat ek van haar leef
Maar omdat my siel tuis is – in Afrika

Wanneer Afrika oor haar kinders ween
Is my wange deur traandruppels deurweek
Wanneer Afrika haar voorvaders eer
Buig my hoof in respek daarheen
Wanneer Afrika oor haar slagoffers rou
Is my hande in gebed gevou
Wanneer Afrika haar oorwinnings vier
Dans ek op die maat van die oorwinningslied

Ek is van Afrika
Met haar asemrowende ylblou lugruimtes
Laat sy die toekoms skitterend skyn
Ek is van Afrika
Waar ek gegroet word asof familie
En ek ervaar die gevoel van meervoudig
Ek is van Afrika
Want haar wildheid bring vertroosting vir my siel
En bring my nader na die bron van Lewe

Wanneer Afrika-musiek in die wind weerklink
Volg my polsslag die ritmiese klop
En word ek een met die klank
Wanneer die Afrika-kleure in die son glinster
Verdrink my sintuie in haar reënboog
En is ek die natuur se pallet
Wanneer die Afrika-verhale om die vure op-klink
Volg my voete hul tydlose ‘wink
En is ek die spore van die verle’

Ek is van Afrika
Want sy’s die krip van geboorte
En troetel die oer-oue wysheid
Ek is van Afrika
Want sy leef in die skadu van die wêreld
En brand met ‘n gloeiende inspirasie
Ek is van Afrika
Want sy is die land van môre
En ek eer haar tydlose geskenke


Creative Commons 2005
Translation by Christa van Rooyen 2008

1 comment:

  1. Wat n gedig!Oorspronklik pragtig!Laat my na Namakwland verlang!

    ReplyDelete